Belastingopgawes
Het jy hulp nodig met jou belasting?
Julle belastingopgawes is vanaf 01/07 op SARS e-filing beskikbaar vir ons om in te dien. Ons benodig weereens die volgende by julle om dit te kan doen:
Salaris(se):
- IRP5's en IT3's van jou werkgewer(s). Aangesien SARS deesdae omtrent alle opgawes oudit en dan vereis dat die oorspronklike IRP5's en IT3's ingedien word, moet julle dit maar saam met die ander dokumentasie vir my stuur.
- Onthou ook dat, indien jy afgetree of van werk verwissel het, jy die IRP5's/IT3's van enige bedrae oorgedra/uitbetaal uit jou mpy se pensioenfonds/voorsorgfonds ook moet verskaf.
Mediese fondse:
- Voorsien ons asb van 'n Belastingsertifikaat vanaf jou mediese fonds.
- Jy sal 'n belastingkrediet ontvang vir elke maand waarin jy maandelikse premies tot 'n mediese skema bygedra het, as volg:
- Hooflid en 1ste afhanklike: R257 elk per maand
- Verdere afhanklikes: R172 per maand
- Daar is ook ingewikkelde formules vir die eis van mediese uitgawes wat ons nie hier gaan bespreek nie. Indien jy jonger as 65 is en nie gestremd is nie, sal jy slegs 'n belastingkrediet vir mediese uitgawes ontvang indien die uitgawes meer as 7.5% van jou belasbare inkomste bedra.
- SARS aanvaar nie meer die bedrag wat op jou mediese fonds belastingsertifikaat verskyn vir uitgawes wat die lid self betaal het nie. Jy moet kan bewys (bv deur die kwitansies te verskaf) dat jy self daardie uitgawes fisies betaal het. Indien jou mediese uitgawes dus meer was as 7.5% van jou belasbare inkomste, moet jy ons voorsien van 'n spreadsheet met datum, verskaffer en bedrag gelys, met daarby aangeheg die betrokke rekeninge en kwitansies.
Beleggings:
- Voorsien ons asb van die volgende:
- IT3(b)-sertifikate van jou rente op jou bankrekeninge.
- IT3(b)-sertifikate van rente en dividende op effektetrustbeleggings.
- IT3(c)-sertifikate van kapitaalwinste/(verliese) op effektetrustbeleggings.
Uittree-annuïteitsfondse en Inkomstebeskerming:
- Sertifikate van bydraes tot Uittree-annuiteitsfondse (UA's), of in Engels Retirement Annuities (RA's). Dit is tans aftrekbaar tot en met 15% van jou nie-pensioengewende belasbare inkomste.
- Sertifikate van bydraes vir Inkomstebeskerming. Let wel dat hierdie bydraes vanaf 1 Maart 2015 nie meer belastingaftrekbaar sal wees nie!
Motortoelaag/maatskappymotorvoordeel:
- Slegs werklike besigheidsreise kan geëis word - daarvoor benodig ons jou Logboek. Jou logboek moet onderskei tussen privaatreise en reise vir besigheidsdoeleindes. In geval van reise vir besigheid moet jy jou bestemming kan aandui en wie besoek is. Let wel dat jou logboek daaglikse reise moet reflekteer - SARS is nie meer tevrede met 'n maandelikse/jaarlikse opsomming nie.
- Addisionele info wat ons benodig indien jy 'n nuwe motor in die jaar gekoop/verkoop het: Verkoopprys, verkoopdatum en verkoop km van jou ou motor, sowel as die aankoopdatum, aankoopprys, registrasienommer, begin km, maak en model van jou nuwe motor.
Besigheid en verhuring
- Indien jy in jou eie naam 'n besigheid bedryf het, benodig ons al jou bankstate en ander dokumentasie ten einde 'n inkomstestaat van jou besigheid te kan opstel. Jy kan dit ook self opstel en vir ons aanstuur.
- Indien jy eiendom verhuur het, benodig ons die inkomste verdien en die uitgawes ten opsigte van daardie eiendom (rente betaal, levies, belasting, herstelwerk, munisipale fooie ens). Dit is voldoende as jy dit vir ons in 'n spreadsheet deurgee. Onthou egter dat SARS die bewyse van die uitgawes wat jy eis, kan aanvra (bv rente op die verband, levies, munisipale rekeninge).
Kapitaalwinste en -verliese
- Indien jy dalk 'n eiendom gekoop / verkoop het, moet jy asb die besonderhede van die transaksie aan ons deurgee. Ons verkies gewoonlik om die afhandelingstate vanaf die oordragprokureurs te gebruik. Ons sal afhandelingstate benodig van die verkooptransaksie, sowel as die afhandelingstaat toe jy die eiendom aangekoop het.
- Indien jy dalk 'n belegging gemaak het wat dalk nie so goed uitgewerk het nie (maw indien jy al jou geld verloor het), laat ons weet sodat ons die kapitaalverlies kan eis.
- Stel ons asb ook in kennis van enige ander wesenlike transaksie wat dalk kapitaalwinsbelasting gevolge kan hê.
Donasies
- Donasies aan geregistreerde organisasies is aftrekbaar tot en met 10% van jou belasbare inkomste. Let wel: Bedrae wat aan kerke geskenk word is nie aftrekbaar nie.
- Voorsien ons asb van die art18A kwitansies - ons kan 'n donasie slegs aftrek indien 'n art 18A kwitansie voorsien word. Let wel 'n kwitansie is slegs 'n art18A kwitansie indien daar op die kwitansie staan dat hy uitgereik is in terme van art 18A van die Inkomstebelastingwet.
Ander: Laat weet ons indien enige van die volgende verander het (huidige kliente):
- Jou huisadres of posadres
- Jou e-pos adres
- Jou bankbesonderhede
- Jou huwelikstatus
- Jou huisnommer, werknommer of selfoonnommer
Nie tans een van ons waardevolle kliente nie? Kontak ons onmiddelik vir 'n oplossing wat jou spesifiek sal pas. Ons bedien die privaat individu asook besighede. Onthou, om slim te werk met jou geld is nie 'n voordeel nie, dit is inderdaad 'n noodsaaklikheid!